Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? (vers 2)
Dalk was jy ook al daar waar Dawid in dié psalm is. Jy is desperaat, maar soek tevergeefs na God se teenwoordigheid. Hy is afwesig. Dit voel vir jou asof God wegkruipertjie speel met jou; asof jy geheel en al op jou eie is (vers 3). Dalk het jy ook al gevra waar God dan is as jy Hom nodig het. Die skrywer van Klaagliedere beskryf dit só (Klaagl 3:5): “Hy het my toegebou met ’n muur van gif en ontbering rondom my …”
As dit só gaan, raak jy al hoe meer paniekerig. Dawid was selfs bang dat hy sal sterwe (vers 4b).
In die heel laaste vers is daar skielik ’n wending, en Dawid wil sing tot eer van die Here. Wat het gebeur? Skynbaar niks nie. Die wending het in sy gemoed gekom toe hy opgehou het om op homself en sy omstandighede te fokus, en gedink het aan God se troue liefde.
God is nie weg nie. Jesus het immers beloof dat Hy by ons is, al die dae (Matt 28:20). Haal net ’n slag diep asem en kyk weg van jouself.
Views: 7