Of dit nou gou-gou gebeur of langer duur,” antwoord Paulus, “ek bid God dat nie net u nie, maar almal wat vandag na my luister, sal word wat ek is, natuurlik net sonder hierdie boeie. (vers 29)
Paulus het geen kans om te getuig dat Jesus die Here is, laat verbygaan het nie. Ons het ’n hele aantal getuienisse van hom in die boek Handelinge. Hy het met die Jode in die sinagoge in Antiogië in Pisidië gepraat (13:14-43), met die intellektuele op die Areopagus (17:16-33), met die Jode by die tempel (21:27-22:21) en hier weer met die hooggeplaastes aan die Romeinse hof in Sesarea: die goewerneur, die koning, sy suster, ’n klomp generaals en vooraanstaande inwoners van die stad (25:23 e.v.).
Hoewel hy sy aanpak by sy gehoor aangepas het, was sy getuienis eenvoudig: die Christus moes ly en die eerste wees wat uit die dood opgestaan het, om die lig aan die Jode en heidennasies te bring (vers 23). En dan het hy bygevoeg: “Word wat ek is” (vgl. 1 Kor 11:1). Dít is ’n getuienis met trefkrag; so anders as die skrifgeleerdes en Fariseërs wat self nie gedoen het wat hulle verkondig het nie (Matt 23:3).
Ek en jy is die boodskap!