Die berig dat die Arameërs reeds in die Israelitiese gebied in Efraim kamp opgeslaan het, het vir Agas, die koning uit die geslag van Dawid, in Jerusalem bereik, en hy en sy volk het baie bang geword. Hulle het gebewe soos die bome in die bos bewe in die wind. (vers 2)
Of jy paniekerig raak of kalm bly te midde van ontstellende nuus, hang ten nouste saam met jou verhouding met die Here. Agas het sy rug op die Here gedraai en selfs van sy kinders in die Ben-Hinnomdal verbrand as offers aan afgode (2 Kron 28:1-4). Toe die gevaar dreig, het hy geen geloof gehad wat hom kon deurdra nie. Selfs toe die Here hom by monde van Jesaja uitnooi om ’n teken te vra van God se beskerming, wys hy dit af (vers 11-12). Kamma uit nederigheid, maar eintlik was dit uit ongeloof.
“Julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie,” waarsku die Here hom (vers 9). Dit is van ons ook waar. Ons kan ons blind staar teen dit wat voor oë is en paniekerig word, of ons kan rus in die wete dat God by ons is (Immanuel!) te midde van uitdagende tye.
Views: 31