Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.” (vers 5)
Abram het ook twyfel en teleurstellings en oomblikke van moedeloosheid geken. So sien ons hom hier op moedverloor se vlakte, omdat hy nie kon verstaan waarom God se beloftes aan hom dan nie in vervulling gaan nie.
As jy soms sukkel in jou geloof is jy in goeie geselskap!
Wat doen God met ’n twyfelaar?
God is nie ’n onsimpatieke en onbetrokke toeskouer nie, maar kom ons tegemoet en help ons in ons swakheid. God staan nie op die kant en kyk hoe Abram spartel nie. Dit is ook nie vir Hom om ’t ewe of Abram dit gaan maak of nie. Hy wil hê dat Abram sal slaag. Hy wil Abram help om te glo. Daarom praat Hy met hom; gee Hy aan hom die tekens van die sterre, en later ook die vuur uit die hemel wat die offers verteer. God vat Abram by die hand en help hom om te glo.
God is vandag nog só.
Views: 7