Daarom, so sê die Here: Julle het nie na My geluister nie. Julle het nie julle volksgenote vrygelaat nie. Daarom laat Ek julle nou vry, sê die Here, vry vir oorlog, vir pes en vir hongersnood, en Ek maak julle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik. (Jer 34:17)
Wat hier oor die rykes van Juda berig word, laat my dink aan vandag se politieke leiers, wat ook gou is om die wonderlikste beloftes te maak, maar wanneer die beloftes in dade omgesit moet word, kom daar dadels van. Die Jode was diep in die moeilikheid. Nebukadnesar se leërmag was vir ’n derde keer op pad na Jerusalem. Toe kom koning Sedekia met die idee dat hulle al die Hebreeuse slawe moet vrylaat, soos Eks 21:2-6 stipuleer. Hy en die rykes het seker gedink hulle sal God se hart daarmee sag maak. Maar toe Nebukadnesar sy magte terugtrek omdat ander sake hulle aandag geverg het, vergeet hulle van hulle plegtige belofte en onderwerp die vrygelate slawe weer met geweld (vers 16).
Diepgewortelde sonde verg baie meer as ’n oppervlakkige “verbondshernuwing”. Dit het hartgrondige berou en hartsverandering nodig. Dít het die Joodse adel destyds nie verstaan nie, en politici vandag besef dit ook nie. En ons?