Die Midianiete het vir Josef in Egipte verkoop aan Potifar. Hy was aan die farao se paleis verbonde as hoof van die lyfwag. (vers 36)
Hier is nou regtig nie ’n enkele karakter in Genesis 37 van wie ek hou nie. Jakob bederf Josef gruwelik; die broers is wreedaards, en Josef is ook nie ’n engeltjie nie. Hy dra stories aan by sy pa en loop en spog oor sy drome; ’n regte verwende mannetjie wat moeilikheid gesoek het.
Iemand het gesê: ’n Mens se kinders is nes jy, net erger. Daarom kon ’n mens eintlik voorspel dat Jakob se kinders niksnutse sou word, want hý was dit. Hulle doen maar net wat hulle by hulle pa geleer het en haal dieselfde streke uit.
Ouerskap is ’n baie groot verantwoordelikheid. Kinders kan maklik die spoor byster raak as die ouers nie die regte voorbeeld stel nie.
Die ergste is dat dit lyk asof God afwesig is. Ons lees niks van Hom in hierdie hoofstuk nie. Maar dit lyk maar net vir ons so, want die laaste vers vertel dat Josef nie in die grote Egipte verdwyn het nie. Hy beland by Potifar, ’n man baie naby die farao. Alles is nié verlore vir Josef nie!
Views: 20