U was kwaad vir ons, want ons het gesondig. Ons het so lank daarmee aangehou, hoe kan ons dan nog gered word? (vers 5b)
Ons het hier een van die aangrypendste klaagliedere van die Ou Testament te make. Dit is ’n gebed tot God om hulp; ’n gebed dat God sy volk nie aan hulle lot moet oorlaat nie, nie in hulle sondes moet los nie, maar met magtige dade, soos in die verlede, hulle weer te hulp moet kom (vers 1).
Dalk vreet die onsekerheid aan jou ook, soos aan die digter – want dalk is daar ’n afsnypunt vir God se genade? Dalk het jy te lank aangehou en jou kanse verspeel.
En tog! ’n Gelowige wat in die Vader veranker is, kan nooit ophou hoop nie. Ons is immers die klei in die hande van die hemelse Pottebakker (vers 8). Selfs al wéét jy jy het jou kanse opgebruik. Selfs dan mag jy, móét jy, met hoop na God roep soos Jesaja. Want gelukkig is God nie soos ons nie. Hy kom elkeen tegemoet wat met vreugde doen wat reg is, wat op sy paaie aan Hom bly dink (vers 5a, 2020-vertaling).
Views: 61