Sallum, seun van Loges en gesagvoerder oor ’n halwe stadswyk van Jerusalem, het die volgende stuk gebou, hy en sy dogters. (vers 12)
Wat ’n wonderlike berig is dit nie! Almal sit skouer aan die wiel om die muur te herstel. Ons lees van die hoëpriester Eljasib en die priesters (vers 1), mense van Jerigo en Tekoa en Sanoag (vers 2, 5 en 13), talle families, goudsmede en salfmengers (vers 8), wyksleiers (vers 9, 12, 14, 15, 16), Leviete (vers 17), tempelslawe (vers 26) … Die hele stad se mense, én die mense uit die ander dorpe van Juda, het gehelp, tot die dogters van Sallum (vers 12). Dalk kon hy nie genoeg manne in sy wyk opgekommandeer kry nie?
Ongelukkig was daar vaal kolle ook, soos die vooraanstaande mense van Tekoa (vers 5) wat van hulleself te veel gedink het om hulle hande vuil te maak. Diegene kry jy ongelukkig orals.
Só bind die bou aan die muur die hele gemeenskap saam, want almal werk skouer aan skouer – die geestelikes, die rykes, die vernames, die ambagsmanne en die mense van die platteland. Dis God se werk, en voor God kan jy nie hoogmoedig of afgunstig wees teenoor medewerkers nie.
Views: 12