En toe die hongersnood straf word in die ander lande, het die mense van die hele wêreld Egipte toe gekom om koring te koop by Josef. (vers 57)
God is ’n ruimhartige God – nie net vir ’n paar uitgesoekte bevoorregte kinders van Hom nie, maar vir almal. Die Here Jesus het van God gesê: “Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.” Dis juis waarom Hy vir Abraham roep: “In jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”
God wil die wêreld seën deur sy kinders te gebruik. So het God vir Josef gebruik om sy seëninge na ander mense toe te laat oorvloei. Daarom het God hom in ’n posisie gebring waar hy tot seën kon wees vir mense van die hele destydse wêreld. Want toe die wêreld wil vergaan van die honger, was daar danksy Josef se bemiddeling kos in Egipte.
Josef was ’n werktuig in God se hand, en hy moes ’n baie groot persoonlike prys daarvoor betaal. Natuurlik het hy uiteindelik self óók seën daardeur ontvang.
God werk vandag nog so. Hy gebruik jou en my om sy genade by ander te bring. Wat ’n voorreg!
Views: 13