“Wanneer ek sterf, moet jy my uit Egipte wegvat en in die graf van my voorvaders gaan begrawe.” (vers 30)
Ná al Jakob se wedervaringe en sy pogings om die beloofde land syne te maak (dink maar aan sy stryd met Esau) het hy steeds baie min om te wys: net die Makpela-grot wat sy oupa Abraham gekoop het (Gen 23:1-20), ’n put by Berseba (Gen 21:22-34) en’n lappie grond by Sigem (Gen 33:19).
In teenstelling hiermee word hy en sy nageslag grondeienaars in Egipte, danksy die bemiddeling van Josef (vers 11). Uiteindelik het hulle nou ’n plek wat hulle hul eie kon noem.
Dié nuwe omstandighede laat Jakob egter nie van God se beloftes vergeet (o.a. Gen 46:4) nie. Egipte is hoogstens ’n tydelike skuif. Die beloofde land is nog altyd Kanaän. Daarom laat hy Josef belowe dat hy hom in Kanaän sal gaan begrawe, want dis waar hulle toekoms lê.
Nuwe omstandighede dwing ons van tyd tot tyd om aanpassings te maak, en dit is ook reg so. Ons moet die beste van ons omstandighede maak en aan beweeg. In die opwinding van die nuwe mag ons dan nie die basis van ons lewe vergeet nie (vgl 2 Tim 3:14).
Views: 14