Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het, hulle weet wat Ek gesê het. (vers 21)
Die Here Jesus staan hier voor die magtigste Jood in die land, die man wat letterlik oor lewe en dood beskik het. En Hy huiwer nie om Annas uit te daag om sy leer te toets, en selfs sy volgelinge te ondervra nie. ’n Mens kan in jou geestesoog sien hoedat die Here Jesus fier en regop voor Annas staan en vreesloos, vol hemelse waardigheid, met hom praat.
Terselfdertyd, so berig Johannes, is Petrus ook gekonfronteer; maar hierdie keer nie deur enige iemand van aansien of status nie, maar deur ’n diensmeisie van Annas. En later die aand ook deur ander werkers en slawe van Annas. Maar watter geweldige kontras is sy optrede nie in vergelyking met die Here Jesus Christus nie! In Jesus se diepste nood, op die uur toe Hy sy volgelinge se ondersteuning die nodigste gehad het, verkrummel die leier onder hulle, Petrus, voor ’n eenvoudige diensmeisie en ’n paar slawe!
Alleen moes die Here die kruis verduur, van God die Vader en ook van sy volgelinge verlaat, om vir ons sondes te betaal. ’n Mens wonder wat óns reaksie daardie aand sou wees.
Views: 4