Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. (vers 5)
Een van die grootste leemtes in die moderne samelewing is die byna algehele afwesigheid van ’n sondebesef. Ons word van oral-oor geïndoktrineer en vertel dat ons wonderlik is. Daar bestaan nie iets soos sonde nie; dis net foutjies wat mense maak.
Dit is helaas nie net buite die kerk waar ’n mens dit hoor nie. Jy hoor dit ook in die kerk, onder gelowiges. Mense is moeg daarvoor om te hoor hulle is sondig; mense weet nie juis wat om te doen as daar ’n skuldbelydenis in die liturgie van die erediens is nie.
Dawid se woorde in Psalm 51 spreek van ’n totaal ander ingesteldheid; van diepe en hartgrondige berou, want sy sonde staan soos ’n monster voor hom, en hy besef dat hy nie voor God kan verskyn soos hy is nie. Hy weet sonde is nie maar net ’n foutjie hier en daar nie; dis deel van sy wese, van wie hy is.
As ’n mens na Golgota kyk, verstaan jy wat Dawid in hierdie psalm verwoord het. Sonde is verskriklik. En daarom pas dit ons om ons saam met Dawid baie diep voor God te verootmoedig.