As jy terugkom na die Almagtige toe, sal jy herstel word. (vers 23)
Elifas se “preek” laat my dink aan ’n erediens wat ek as hoërskoolkind bygewoon het in die destydse Suid-Wes. Ons het met ’n karavaan getoer. Een naweek het ons op ’n kusdorp oorgestaan, en is daardie Sondagaand oudergewoonte kerk toe. Dit was in die winter-vakansie, en dit was net ons sewe (’n gesin met vyf kinders), die dominee, die koster en die orrelis in die kerk; geen ander mense nie. Die dominee het ’n ernstige bekeringspreek afgesteek. My predikant-pa het later sy Bybel gevat en daaruit begin lees terwyl die dominee preek. Op pad terug na ons karavaan het my pa opgemerk dat die dominee darem moes gedink het wie in die kerk sal wees voor hy sy preek gemaak het.
Elifas moes gewéét het sy preek is misplaas. Maar in plaas van simpatie beskuldig hy Job van aaklige goed (vers 5-10), soos die dominee se oordeelspreek vir die stomme besoekers in sy kerk.
Iemand het gesê jy kan nie iemand in die hemel injaag deur hom bang te maak vir die hel nie. Jesus se boodskap was immers telkens ’n uitnodiging om by Hom rus te kry (Matt 11:28-30). Dís hoe ons mense kan bereik.