Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. (vers 3)
Jona het nie God se hart verstaan nie. Want by God het dit nooit net om die volk Israel gegaan nie. Israel moes bloot ’n kanaal wees waardeur God se seën na ander kan vloei, ook na Nineve. Maar Jona wou daar niks van weet nie. En daarom spring hy op die eerste die beste skip en vlug.
Dis tog ’n verspotte ding wat hy gedoen het. Om te dink jy kan van God af wegvlug! Hoe sê Dawid nou weer in Psalm 139? “Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?”
En daarom kom die stomme Jona nie baie ver nie. Hy is skaars op die skip, of God keer hom voor. Want – en dit het Jona óók nie verstaan nie – God gee om vir sy halstarrige profeet. Hy gee om wat Jona doen en wat van hom word. Want dis hoe God is. Hy gee om. Hy gee om vir die volk Israel, Hy gee om vir die mense van Nineve, Hy gee om vir Jona. Hy gee ook om vir jou. So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het … (Joh 3:16).
Views: 60