Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede. (vers 1)
Psalm 116 is ’n danklied vir uitkoms wat die Here gegee het. Die digter praat van bande van die dood wat hom omsluit het, van doodsangs en benoudheid (vers 3). Ons weet nie wat dit was nie. Dit kon werklike lewensgevaar gewees het, soos in ’n oorlogsituasie, of siekte, of selfs ’n knellende droogte. Ons weet nie. Dit maak egter nie eintlik so veel saak nie. Wat belangrik is, is dat die digter hier vir ons vertel dat hy in die nood was, en dat God toe vir hom uitkoms gegee het.
Wat ook belangrik is, is die wyse waarop die digter die uitkoms wat die Here gegee het, beleef. Hy is so verwonderd oor God se uitkoms dat hy skoon verslae staan voor die Here, verleë met sy dankbaarheid. Daarom die vraag in vers 12: “Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?”
Hoe antwoord hy dan die Here? Deur die Here lief te hê (vers 1).
Maar hy spel ook ’n paar praktiese maniere uit waarop hy sy dankbaarheid teenoor die Here gaan toon (verse 13,14,17,18).
Dit laat ons natuurlik met die vraag: Hoe wys ons óns dankbaarheid?
Views: 136






