Berge smelt weg onder Hom, laagtes skeur oop. Soos was in vuur smelt, so smelt die berge, hulle loop teen die hellings af soos water. (vers 4)

Miga begin sy profesieë met die aankondiging dat God, die Regter van die hele aarde, sy regterstoel bestyg in ’n hofsaak teen Samaria en Jerusalem, oftewel teen Israel en Juda. En, waarsku Miga, God is niemand se speelmaat nie. Selfs die berge smelt weg onder Hom.

Die rede vir God se toorn is Israel se afgodsdiens, wat uit die aanbidding van Kanaänitiese vrugbaarheidsgode bestaan het. Hierin het tempelprostitusie ’n groot rol gespeel. Miga sê hierdie soort afgodsdiens is soos ’n kanker wat versprei (vers 9) wat uiteindelik ook Jerusalem besmet het. Daarom loop Jerusalem die gevaar om soos Samaria ook die prooi van die vyand te word: ballingskap is op die kaarte (vers 16).

Dis die moeilikheid met ’n sondige leefstyl: dit besmet nie net jouself nie, maar ook ander. Hieroor loop Miga en treur (vers 8).

Ek wonder dikwels of die sondigheid van die wêreld ons genoegsaam aangryp. Treur jy ook oor dit wat verkeerd is in die wêreld?

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.