Ek pak die boek Spreuke ietwat anders aan; ek doen dit aan die hand van briewe wat koning Salomo aan sy vriendin Jemen, die koningin van Skeba, skryf. Ek hoop jy geniet dit!
Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag. (vers 7)
My hooggeagte koningin Jemen
Ek vertrou dat jy ’n voorspoedige terugreis gehad het, en dat Skeba nog net so mooi is soos wat ek dit onthou. Ek beplan om binnekort al my handelsvennote te besoek, en ek sien baie daarna uit om ook by jou mooi land uit te kom.
Sedert jou besoek hier in Jerusalem, en al ons debatte oor die wysheid, het ek nogal baie nagedink. Veral een van jou opmerkings bly my by. Jy het gesê jy kan nie verstaan hoe jou hoofraadgewer – Baldi, nie waar nie? – so onbeskof kan wees nie. Hy is dan veronderstel om wys te wees.
Ek dink ek het ’n antwoord vir jou. Hier in my land is ’n gesegde: “Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid,” lui dit. Dit is nou “vrees” soos in ’n lewe van ontsag vir God, en ootmoed en diens aan Hom. Toe dink ek so, jou raadgewer – soos ons almal! – sal net wysheid hê as hy God vrees, ootmoedig voor Hom en sy medemens lewe, en Hom dien. Jy weet, as ons maar net vroom is wanneer ons die tempel besoek en tot God bid, beteken dit net mooi niks. Want wysheid is nie ’n teoretiese saak wat ek en jy in die troonsale van ons paleise kan beoefen nie. Dit is ’n praktiese saak. Wysheid is ’n lewenswyse, liewe Jemen, en dit begin daar waar ek en jy in ontsag voor die heilige God van hemel en aarde staan. Waar ek en jy Hom vrees.
Ek bid dat jy elke dag meer van hierdie wysheid sal hê!
Gee my liefde vir Abimeleg, en vir Adoniram.
Salomo ben Dawid
Views: 42