Een van die vier lewende wesens het toe aan die sewe engele sewe goue bakke gegee, gevul met die toorn van God, van Hom wat tot in alle ewigheid lewe. (vers 7)
Die sewe seëls het God se oordeelsvoltrekking ingelui (Op 6:1–8:1), die sewe trompette het die dringendheid van die oordeelsvoltrekking beklemtoon (Op 8:2–11:19) en nou breek die finale voltrekking van God se oordeel oor die goddeloses aan met die sewe bakke (Op 15:1–16:21). Die groeiende intensiteit is opvallend. Net soos by die trompette speel die natuurelemente en Eksodusmotiewe by die bakke ’n belangrike rol.
Die sewe goue bakke is die skottels waarin die brandende kole vir die wierookoffer gewoonlik gehou is. Op hierdie oomblik is die bakke gevul met die vuur van die toorn van God (vers 7). Dit gaan nie nou oor die bevrediging van God se woede nie. Dit gaan oor sy heiligheid wat sonde nie verdra nie.
Die lied wat die mense sing (vers 3-4), is ’n pryslied tot God, nie ’n wraaklied waarin hulle hulle oor die ondergang van die goddeloses verlekker nie. Dit is die ingesteldheid van ’n gelowige. Dis nie gefokus op die ondergang van die goddelose nie, maar op die eer van God.
Views: 21