Jy is dus nie meer ’n slaaf nie; jy is nou ’n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak. (vers 7)
’n Gesin werk nie met ’n menigte reëls nie, dit werk met riglyne van respek, waardering, omgee. As dít in plek is, is ’n klomp reëls onnodig. Elkeen doen wat gedoen moet word, omdat elkeen ’n gewaardeerde lid van die gesin is en graag wil bydra tot die goeie gees in die huis.
Ons is deel van God se huishouding. Ons is sy kinders. Die Gees van Jesus werk in ons en help ons om in te pas in God se familie (vers 6). Daarom is daar nie talle reëls vir elke klein dingetjie nodig nie. Dit is wat Jesus ons kom leer het. Daar is net een reël, en dit is dat ons God moet liefhê, en mekaar (Matt 22:37-40 en Joh 13:34).
Dit is natuurlik baie makliker om ’n reël vir elke ding te hê, want dan weet jy presies wat om te doen en hoef jy nie daaroor te dink nie. Maar ons is nie slawe nie. Daarom moet ons met verantwoordelikheid keuses maak, gelei deur die Gees en die wet van die liefde.
Views: 31