Elkana het elke jaar uit sy stad uit na Silo toe gegaan om te aanbid en aan die Here die Almagtige offers te bring. (vers 3)
Samuel het ’n onontbeerlike rol gespeel in Israel se oorgang van ’n losse stamverband na ’n koninkryk. Hy was die laaste rigter, en ook ’n groot profeet wat die volk moes lei deur ’n baie moeilike tyd.
Iets wat my opval wanneer ek in hierdie hoofstuk aan hom bekend gestel word, is die vroomheid en getrouheid van sy ouers Elkana en Hanna.
Dit staan in skrille kontras met iemand soos Miga, van wie ons in Rigters 17-18 lees. Ons sal ook nog by Hofni en Pinehas kom. Hulle was Eli se seuns, wat met hulle eiegeregtige optrede groot skande gemaak het (1 Sam 2:12 en verder).
Daar is net een manier om jou kinders op die regte pad te help: maak hulle groot in die vrese van die Here, soos Elkana en Hanna gedoen het. Maak hulle deel van jou godsdiensoefening. Vat hulle saam kerk toe. Trek hulle in in gesinsgesprekke oor geloof. As hulle in jou lewe sien dat God leef en die Here Jesus Koning is, sal hulle nie sommer die rug op Hom draai nie.