Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam […] sal hulle oorwin, omdat Hy die Here van die heersers en die Koning van die konings is. (vers 14)
Op 17:1 – 19:10 vorm ’n eenheid en beskryf die verloop van die voltrekking van die sewende toornbak. Ons kry in Op 17 ’n beeld van die val van Babilon.
In die Ou Testamentiese profesieë was die simboliek van ’n sedelose vrou baie bekend, en dit het gewoonlik godsdienstige afvalligheid voorgestel (sien bv Jes 1:21). In Op 17 stel sy die stad Rome voor, die hoofsentrum van die bedryf van allerlei goddeloosheid. Die vrou sit op ’n helderrooi dier. Dit is simbolies daarvan dat sy gedra word deur die stukrag van die bloeddorstige Antichris (Op 13:1). Haar klere dui op die uiterste weelde. Dis juis met hierdie weelderige, dekadente leefwyse waardeur sy die nasies verlei.
Die vrou is dronk van die bloed van die gelowiges. In die tyd waarin Openbaring geskryf is, het talle gelowiges ’n marteldood aan die hand van Rome gesterf.
’n Mens kan maklik vreesbevange raak vir die aanslag van die Bose op die kerk en gelowiges, maar die Bose sal nie die laaste woord hê nie. DÃt behoort aan die Lam (vers 14).