Omdat hulle Hom gedien het, het Hy vir hulle huisgesinne gegee. (vers 21)
Eksodus begin waar Genesis geëindig het. Die hele nageslag van Jakob is in Egipte. Josef is ook al dood, en ’n nuwe bewind is nou in beheer van Egipte. Die nuwe farao sien die Israeliete as ’n bedreiging (vers 9), en wil hul getalle beperk met allerhande wrede en onmenslike maatreëls.
Op die oog af lyk die toekoms vir die Israeliete hopeloos. Hulle is volledig uitgelewer aan ’n wrede despoot wat klaarblyklik geen erg aan menselewens het nie. Maar dis natuurlik nie die volle verhaal nie. God is ook teenwoordig om sy mense te beskerm. Ons lees dit meer as een keer. Let op vers 12 en 17, wat elke keer met ’n “maar” begin. Dit is niks anders nie as God se manier om te sorg.
In vers 20-21 lees ons nog meer daarvan, waar staan dat God die vroedvroue geseën het.
Die duiwel en sy agent die farao is nie die enigste spelers in dié skaakspel nie. Vir elke skuif wat die Bose maak het God ’n antwoord.
Ek en jy is nie uitgelewer aan die nukke en grille van die Bose nie. Ons leef onder God se sorg!