God (het) die volk met ’n ompad laat gaan, met die woestynpad in die rigting van die Rietsee. (vers 18)

Die lewe loop dikwels nie soos jy gedink het nie. Soms maak hy draaie; soms loop hy deur donker dieptes; soms deur woestyne.

God laat die Israeliete nie op die grootpad na Kanaän koers kies nie. Hy vat hulle die woestyn in. Want die grootpad loop deur die Filistynse gebied, en Hy weet hulle is nie opgewasse teen hulle nie. Die punt is: God weet waar die probleme en gevare op die pad is, en waarom ’n ompad soms nodig is. Hy lei ons nie daarop om Homself te laat geld nie, maar omdat Hy ons beste belange op die hart het. Die kortste of gewildste pad is nie noodwendig die beste nie. Lees gerus Matt 7:13-14.

Solank die Israeliete die wolk- en vuurkolom (vers 21) gevolg het, was hulle veilig. Dit lol as jy jou eie kop en eie pad begin volg, want dan is jy op jou eie. Ons het nie vandag ’n wolk- of vuurkolom nie, maar ons het Jesus. Hý is die pad (Joh 14:6). As ons Hom in die oog hou en volg, sal ons nie verdwaal nie (Heb 12:1-3).

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.