Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. (vers 1)
Die duiwel het van die begin af probeer om Jesus se bediening te verongeluk. Dis wat Matteus ons wil laat verstaan. Dis nogal opmerklik as ons Matteus se weergawe van die evangelie met Lukas s’n vergelyk. Lukas se verhaal begin so half idillies met mense wat telkens in lofsange uitbreek (bv die Lofsang van Maria en die Lofsang van Sagaria, en die engele wat sing). Maar Matteus vertel die verhaal anders, of liewer, hy sien ander goed raak. Hy vertel vir ons van Josef wat in die geheim van Maria wou skei toe hy uitvind sy is swanger, en van Herodes se moord-bendes, sodat hulle Egipte toe moes vlug. Daarmee onderstreep hy vir ons die feit dat Jesus se koms na die aarde toe heftige teenkanting ontlok het. Die duiwel blaas dreiging en moord. Want die wêreld waarheen Jesus gekom het, so glo Satan, behoort nie aan God nie. Hy meen dis syne.
Dit is ’n feit wat elke kind van God die een of ander tyd leer: wanneer jy kies om agter Jesus aan te loop, gaan die duiwel vir jou wag. Wees maar op jou hoede!
Views: 21