Jetro was bly om te hoor van al die goeie dinge wat die Here vir Israel gedoen het toe Hy hulle uit Egipte se mag bevry het. (vers 9)
Moses sou sekerlik met reg kon spog oor al sy prestasies sedert hy sy skoonpa laas gesien het. Maar dis nie wat hy gedoen het nie. Hy het die lig vierkantig op God laat val, sodat Jetro half verwonderd uitroep (vers 10): “Aan die Here kom al die lof toe!”
Dalk is hierdie ’n geleentheid om in God se teenwoordigheid na te dink oor hoe óns praat. Waar val die lig wanneer ons oor ons verlede, ons hede, ons drome, ons prestasies praat? Wie is die hoofkarakter in jóú lewensverhaal?
Interessant dat Moses, wat tog goed opgelei is in staatsadministrasie, nie sover gedink het as om die werklas te versprei nie. Dit was gewoon dom, wys Jetro uit (vers 14). En, groothartige man wat hy was, aanvaar Moses sy skoonpa se teregwysing.
Niemand van ons kan alles alleen doen nie. Ons het ander om ons nodig. Jy ook. Dit is hoekom die Here Jesus ons aan mekaar gegee het in die gemeente.
Views: 17