Ek sal tussen die Israeliete woon en hulle God wees. (vers 45)
Hierdie woorde van God kom aan die einde van al die voorskrifte oor hoe die priesters aan Hom gewy moet word deur ’n hele rits ingewikkelde offerhandelinge. Die punt is dat God tussen sy mense wil woon, maar dat dit nie sommer net kan gebeur nie. Daarvoor is die mense te sondig.
Die priesters moes dit moontlik maak dat God se mense voor Hom kan leef en met Hom kan kommunikeer deur hulle offers. Hulle kon nie sommer direk tot God nader nie; Hy het hulle op ’n afstand gehou deurdat die priesters as tussengangers hulle van God weggehou het. Maar voordat die priesters dié belangrike middelaarsrol in die gemeenskap kon speel, moes hulleself eers deur offers gereinig word.
Die offervoorskrifte help ons om iets van die Here Jesus se werk as Hoëpriester te verstaan (lees gerus Hebreërs 9). Jesus het nie diere geoffer soos die priesters van ouds nie; Hy het Homself geoffer om ons met God te versoen, sodat God tussen ons kan woon en ons God kan wees.
Dis die evangelie, die goeie nuus wat ons vandag kan omhels!