… hulle het Hom gesien en daarna het hulle geëet en gedrink. (vers 11)
Nadat Israel die Verbondsboek ontvang het (Eks 21 – 23), sluit die Here amptelik met hulle ’n verdrag of verbond: Hy sal hulle God wees, en hulle sy volk. Al die elemente van ’n verdragsluiting soos dit destyds tussen twee groot partye gedoen is, is hier aanwesig: die noem van die twee partye (die Here en Israel), die optekening van die verbondsbepalings (vers 4), die bring van ’n offer waarin bloed ’n belangrike rol speel (vers 5-7), en ’n ete (vers 11).
Moses se woorde (vers 8) herinner baie sterk aan die Here Jesus s’n in Luk 22:20 by die instel van die nagmaal (ook ’n ete!): “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.”
Die verbintenis tussen die Here en sy volk kon net plaasvind in ’n persoonlike verhouding; daarom dat dit pertinent geskryf word dat hulle die Here gesien het. Nêrens elders in die Ou Testament word dit herhaal nie.
Later (Joh 20:29) sê Jesus vir Tomas: “Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” Want ’n persoonlike verhouding tussen ons en die Here Jesus is nie op aanskoue gebou nie, maar op geloof.