Jy moet ’n blom van suiwer goud maak en daarop, soos op ’n seëlring, graveer: Aan Die Here Gewy. (vers 36)
Die detail van die voorskrif vir die maak van die hoëpriester en ander priesters se klere, asook die hoë vakmanskap (vers 2 en 3), het net een doel: dit moes die boodskap kommunikeer dat die priesters in God se diens is, nie in die volk s’n nie. Daarom moes dit waardig en mooi wees om te pas by die Een in Wie se diens hulle is en Wie se verteenwoordigers hulle is. Daarom was daar ook ’n roset op die hoëpriester se tulband waarop die woorde “Heilig vir die Here” gegraveer is (2020-vertaling).
Die twee oniksstene op die skouerbande van die skouerkleed, asook die twaalf halfedelstene op die borssak van die hoëpriester het die name van al die stamme van Israel daarop gegraveer gehad. Dit moes die hoëpriester voortdurend herinner dat hy die volk van God verteenwoordig en die volk se belange voor God moes behartig.
Ons is ook priesters (vgl 1 Pet 2:9) om God by mense te verteenwoordig, en vir mense by God in te tree. Wat ’n ontsaglike verantwoordelikheid en voorreg!