… was hy nie daarvan bewus dat sy gesig blink geword het terwyl die Here met hom gepraat het nie. (vers 29)
Wanneer ’n gewone mens voor God lewe, kan dit nie anders nie: sy lewe verander. Sy lewe begin iets van God se heerlikheid uitstraal. Dit het met Moses gebeur. Die glans van die heerlikheid van God het uit hom begin straal, sodat sy gesig geblink het.
Dit is ook wat met gelowiges vandag nog gebeur: die beeld van God se Seun, Jesus Christus, begin hoe langer hoe meer in ons verskyn.
Toe die Israeliete na Moses gekyk het, kon hulle nie anders nie as om te weet: hy is ’n man van God. Hy het met God gepraat; hulle kon dit op sy gesig sien.
En ons? Sal mense wat na ons woorde en ons dade kyk, wat in ons gesigte vaskyk, kan sien dat ons die lewende God self ontmoet het?
Wat sien mense in jou en my oë? Die sagtheid, die liefde van die Here Jesus? Of die harde, koue blik van hierdie wêreld, van oog vir oog en tand vir tand? Van elke man vir homself?
Wat sien jou man, jou vrou, jou kinders, in jou gesig?