Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, ’n aanleiding tot sonde word nie. (vers 9)
In Korinte kon jy nie vleis in die slaghuis koop wat nie deur ’n priester aan een of ander god geoffer is nie. Vir baie gelowiges was dit nie ’n probleem nie, want hulle het verstaan dat afgode nie bestaan nie en die offer dus niks beteken nie (vers 4). Daar was egter gelowiges vir wie afgode steeds ’n werklikheid was. Vir hulle was dit inderdaad ’n probleem dat die vleis aan ’n afgod geoffer is (vers 7).
Hoe nou gemaak? Jý weet vleis is vleis en doen niks aan jou verhouding met God nie, maar vir ’n ander gelowige is dit ’n struikelblok.
Paulus pleit daarvoor dat ons sensitief moet wees vir hoe ons optrede ander gelowiges beïnvloed. Jy kan deur iets wat jy doen, ’n ander in die versoeking stel (vers 10). Dan sondig jy nie net teen die “swakker” gelowige nie, maar teen Christus (vers 12)!
Dít is die spanning van die geloof: God se genade maak ons vry (1 Pet 2:16), maar God se liefde vereis dat ons nadink oor die gevolge wat dit wat ons onsself veroorloof, vir ander inhou.
Views: 22