Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. (vers 12)
Die suigkrag van die sonde is baie sterker as wat jy dink. Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Kyk wat het met Israel daar in die woestyn gebeur, en dit nadat hulle deur die Rietsee is! Oppas. Ons kan ook daardie paadjie stap. Selfvertroue is nie ’n deug wat ons help om in die geloof regop te bly nie. God se besondere genade vir jou in die verlede gaan jou nie outomaties vandag regop hou nie.
Jou geloofslewe vra nie selfvertroue nie, maar Godsvertroue. Hoe minder ek op myself vertrou, hoe meer geleentheid is daar vir God om my regop te hou. “Hy moet meer word en ek minder,” het Johannes die Doper gesê (Joh 3:30). En dis ook Paulus se boodskap aan ons: Gryp aan God vas, klou aan Hom vas, dán sal jy staande bly. “Soek julle krag in die Here en in sy groot mag,” skryf hy in Efes 6:10. “God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” (vers 13)
Hits: 22