Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Kom ons gaan oor na die patrollie van hierdie heidene toe. Miskien sal die Here ons help. Hy kan red, deur baie of deur min.” (vers 6)

Die kontras tussen Saul en sy seun Jonatan is onmiskykbaar. Saul is besluiteloos en neem nie leiding nie, terwyl Jonatan met geloof en waagmoed die inisiatief neem. Saul tree paniekerig op en neem dom besluite om God met sy eed te dwing om hulle te help, terwyl Jonatan (soos Gideon voor hom) die oormag takel.
Dawid eggo Jonatan se woorde in Ps 18:30: “Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.” Dis immers Hy wat met vyf garsbrode en twee vissies ’n skare mense kan voed (Joh 6:9).
Jonatan het dit geglo en daarvolgens gehandel. Hy het nie soos sy pa onder ’n granaatboom gesit en wag dat iets gebeur nie (vers 2). Daarmee daag hy jou en my uit om ons geloof in dade om te sit. Uiteindelik hang die resultaat nie van ons en ons vermoëns en middele af nie, maar van God. Hy kan red, deur baie of deur min (vers 6).
Ons glo dit almal, maar tree ons so op?

image_pdfimage_print

Views: 27

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.