Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. (vers 7)
In die Korinte-gemeente was daar mense wat gespog het oor die gawes wat hulle ontvang het, en neergesien op dié wat dit nié ontvang het nie. Veral die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik (vers 12 – die sg. “spreek in tale”) is as die hoogste gawe aangeprys. Dit het die persoon wat in tale kon praat, ’n spesiale status gegee, en wee die een wat dit nie kon doen nie.
Paulus doen moeite om die gemeente daarop te wys dat die verskillende gawes almal van een en dieselfde Gees van God kom, en Hy deel dit uit aan elkeen soos Hy wil (vers 11). Buitendien gee die Gees die gawes tot seën van die gemeente as geheel (vers 7), en nie as iets om oor te spog nie. Geestelike hoogmoed hoort nie in die gemeente nie.
Om te onderstreep dat die gawes daar is tot voordeel van die hele gemeente, verduidelik hy dat die gemeente soos ’n liggaam is en werk (vers 12 en verder).
Die vraag wat ons elkeen moet beantwoord, is: Watter gawes het ek, en hoe kan die Here my daarmee in die gemeente gebruik?
Views: 17