Dawid was in die nood, want die manne het daaraan gedink om hom met klippe dood te gooi. Almal was verbitterd, elkeen oor sy seuns en dogters, en toe het Dawid hulp gevra by die Here sy God. (vers 6)
In skrille kontras met koning Saul, wat hom in sy paniek tot ’n dodebesweerder gewend het, vlug Dawid in sy nood na God. ’n Mens se karakter en geloofsdiepte word veral sigbaar wanneer jy in die nood is.
Dawid was natuurlik nie blaamloos oor die ramp wat hulle mense in Siklag getref het nie. Hy moes nie die stad weerloos gelaat het nie, veral nie ná sy herhaalde strooptogte teen die mense in die suide nie. Hy aanvaar egter nie die situasie gelate nie, maar tree onmiddellik sterk op. Met die Here se goedkeuring sit hulle die Amalekiete agterna en verslaan hulle in ’n verrassingsaanval. En toe die verdeling van die buit ’n strydpunt onder sy manne word, ontlont hy die situasie deur die buit as ’n geskenk van die Here te bestempel (vers 23).
Hy deel dit selfs met die stede van Juda.
’n Mens moenie suinig wees met dit wat die Here tot jou beskikking stel nie.
Views: 3