Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind … (vers 1)
Die digter roep die Godsvolk op om God te loof en te prys, want Hy is hulle beskutting (vers 1); Hy is magtig, die groot koning (vers 3). Alles behoort aan Hom (vers 4-5). Hy is sy volk se herder wat sy kudde met sy eie hand versorg (vers 7).
Dit is oorgenoeg rede om met lofliedere voor Hom te jubel. Maar, waarsku die digter, moenie dink die lofsange sal alles toesmeer wat verkeerd is nie. Dit wat met die Israeliete tydens die Uittog gebeur het (vers 9-11), is ’n blywende waarskuwing dat God Hom nie om die bos laat lei met oppervlakkige lofsange nie. By monde van die profeet Amos (5:23) het God gesê liedere wat nie uit die hart kom nie, is net ’n geraas (1953-vertaling).
Onverdeelde trou is wat God verwag; liefde met ons hele hart en hele siel en hele verstand en al ons krag. Niks minder as dit nie. Daarom waarsku Hy dat Hy die gemeente van Laodisea uit sy mond wil spoeg, want hulle halfhartige godsdiens walg Hom (Op 3:15-16).
Jubel dan met jou hele hart tot eer van die Here!