Wie kort van draad is, begaan dwaashede; ’n agterbakse mens maak hom gehaat. (vers 17)
My liewe koningin Jemen
Jy sal nooit raai wie vandag vir my kom spreek het nie. En dit nogal in die grootste geheimhouding: Omar! Nogal – ja, jy het reg geraai – om my hulp te vra om Skeba aan te val. Ek moet vir hom ’n afdeling ruitery verskaf, en as betaling bied hy tien jaar se voorraad speserye vir my aan.
Ek was nogal nuuskierig om die man wat julle al soveel hartseer en ellende besorg het, te ontmoet, en daarom het ek hom nie sommer dadelik by die deur uitgejaag nie. Maar is die mannetjie verwaand! Vandat hy by die paleis ingekom het totdat ek die onderhoud redelik ferm kortgeknip het, het hy nooit opgehou om te vertel hoe gelukkig ek is dat hy nou juis vir mý gekies het as bondgenoot in sy stryd om Arabië te bevry nie. As ek hom moes glo, is hy min of meer ’n gawe van God self aan die mensdom.
Ek was later skoon naar van dié glibberige vent se grootpratery. Kry die man dan nie skaam om homself so te prys nie? Nee wat, laat ’n ander jou maar prys as hy dink jy verdien dit. En laat jou optrede, eerder as jou woorde, vir andere vertel watter soort mens jy is. Ons het ’n sê-ding in Israel: “Selfverheffing bring vernedering; wie nederig is, het wysheid.” Omar is nie een van die mense wat wysheid het nie. Ek hoop nie ek hoef ooit weer met hom te praat nie.
Ek het hom duidelik laat verstaan dat hy nie by my hulp gaan kry nie; inteendeel. Maar toe wip die man hom mos vir my en raak beledigend! Ek het hom belowe dat, as hy ooit weer Israel se grondgebied besoedel, ek hom só diep sal opsluit dat hy nooit weer daglig sal sien nie.
Wag, ek groet eers. Groete vir Abimeleg en Adoniram.
Salomo ben Dawid