’n Dwase seun is ’n verdriet vir sy vader en bitter smart vir haar wat hom gebaar het. (vers 25, 1953-vertaling)
My liewe vriendin
Ek is bevrees Rehabeam is op ’n verkeerde pad. Destyds nadat hy uit Ammon teruggekeer het, het ek gedink dit gaan beter, maar ek was seker maar soos alle ouers. Ek het my oë vir die werklikheid gesluit, want ek wou nie weet dat hy gruwelik is nie.
Hy het skaars van sy beserings met die strydwa-ongeluk herstel (ek het mos vir jou daarvan geskryf, nè?), en nou dit. Een van my amptenare het my vertel dat hy gereeld by ’n prostituut in die gure deel van die stad opgemerk word. Toe ek hom daarmee konfronteer, het hy eers alles ontken, maar later tog erken dat hy haar besoek. Toe ek verder met hom daaroor praat, het hy in trane uitgebars en gesê hy weet dis verkeerd en dit pla hom verskriklik, maar hy kan nie van haar af wegbly nie. As hy hom weer kom kry, dan is hy by haar voordeur.
Ek is radeloos. Hoekom is sonde tog so aanloklik? Jy weet jy speel met vuur, en jy weet jy gaan jou brand, maar tog doen jy dit. Dis asof ’n mens ophou om te dink as die versoeking oor jou pad kom.
Op die ou end is dit net die Gees van God wat ’n mens in versoekings staande kan hou. Ek bid net dat Rehabeam die Gees sal toelaat om hom te lei, anders gaan hierdie vrou nog sy einde beteken.
Bid asseblief saam met my vir hom, Jemen!
Jou bekommerde vriend,
Salomo ben Dawid
Views: 16