Jesus klim toe in een van die skuite, die een wat aan Simon behoort, en vra hom om dit ’n entjie van die oewer af weg te stoot. Nadat Hy gaan sit het, het Hy die skare van die skuit af geleer. (vers 3)
’n Mens kan natuurlik nooit té gerus wees dat jy uitgelos gaan word as jy in God se teenwoordigheid kom nie. Dit het Simon daardie dag agtergekom. Want toe hy hom kom kry, sit Jesus binne-in sy skuit! En toe hy weer sien, roei hy met Jesus in sy skuit ’n entjie die see in sodat Jesus sy skuit kan gebruik as ’n preekstoel.
Jesus vra nie sy toestemming nie. Hy sê nie: “Toemaar, Simon, Ek weet jy is moeg,” nie. Nee, Hy maak eenvoudig aanspraak op sy skuit en sy tyd.
Ons moet dit goed verstaan: God maak aanspraak op ons lewens. As jy ’n volgeling van Jesus wil wees, gaan dit met jou gebeur dat God goed van jou vra waarvoor jy nie lus het nie; gaan God eise aan jou stel waarop jy nie gereken het nie. Want as jy aan Hom behoort, behoort jou hele lewe aan Hom, nie net ’n tydjie hier en daar nie. Hy maak aanspraak op jou alles.
Views: 7