Reukolie en wierook is iets om te geniet, maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry. (vers 9)
My liewe koningin Jemen
Jammer dat ek nou eers weer by skryf kom, maar ek was ’n geruime tyd uitstedig. Ek kom nou net terug van ’n uitgebreide reis na die Noorde, waar ek verskeie dringende sake met my vriend koning Hiram van Tirus afgehandel het.
Ek het, terwyl ek daar was, die geleentheid benut om langs die see te gaan stap, en ek het ook ’n draai in die Libanon-berge gemaak. Die wêreld is darem maar ’n mooi plek, met so ’n ontsagwekkende verskeidenheid: die berge, die see, die reusebome in die woude, die lelies in die vleie, die riviere, die sterre, die bokkies en voëls – en weet jy wat het ek gedink terwyl ek alles sien? Ek het net skielik besef dat hierdie wêreld met baie, baie groot wysheid aanmekaar gesit is. Dis net God wat dit kon doen. En toe het nog ’n ding my getref: daar straal ’n stuk vreugde uit die skepping. Het jy al gekyk hoe die son opkom? Dit lyk mos asof die son breed glimlag as hy so agter die berge uitloer. En as die water so oor die klippe kabbel en murmel, dan borrel dit eintlik van vreugde. Of hou ’n paar bokkies in die veld dop, en jy sal die blydskap in hulle spronge sien.
God, dit weet ek, is ’n blye, vreugdevolle God. Sy handewerk roep dit uit. Dis darem jammer dat ons met al ons gekultiveerdheid iets van hierdie lewensblyheid langs die pad verloor het. Miskien, as ons naby genoeg aan Hom lewe, sal iets van sy vreugde op ons afgee. Hoe dink jy?
Ag, ek wou dit sommer met jou deel.
Jou verwonderde vriend Salomo