Paulus en Barnabas het die evangelie ook in Derbe verkondig, en baie mense het daar gelowig geword. Daarna het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië toe teruggegaan. (Hand 14:21)
’n Mens sou kon vra waarom Paulus en Barnabas by Derbe omgedraai het. As hulle verder ooswaarts gereis het, kon hulle by Paulus se geboortestad Tarsus aangedoen het, en daarvandaan na Antiogië teruggekeer het. Dit was waarskynlik ’n korter terugreis, en beslis veiliger, in ag genome die vervolging wat hulle teëgekom het op hulle reis. Maar hulle doen dit nie, want hulle wou seker maak dat die gemeentes wat deur hulle arbeid tot stand gekom het, goed gevestig en georganiseer was (vers 23).
Jesus het in die gelykenis van die saaier vertel dat dit nie genoeg is om die evangelie met blydskap te aanvaar nie; dit moet wortel skiet voordat dit sal vrug dra (Matt 13:18-23). Daarom los Paulus-hulle nie die nuwe gelowiges dat hulle self moes sien kom klaar nie. Hulle herbesoek die nuwe bekeerlinge, versterk hulle en spoor hulle aan om getrou te bly in die geloof (vers 23).
Dat dié jong gemeentes oorleef het ondanks ’n relatief kort blootstelling aan die evangelie, is getuienis van die Here se getrouheid. Hy los nie sy kinders alleen nie.