Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” (vers 38)
Lukas begin sy Evangelie met die berigte van die engel Gabriël wat twee toekomstige ouers besoek: die priester Sagaria, wat al jare lank gebid het (vers 13) vir ’n seun, en die jong tienermeisie Maria, wat vol drome was oor haar toekomstige huwelik. Beide reageer verbaas op die aankondiging dat hulle ’n seun gaan hê; Sagaria word daarvoor met tydelike doofstomheid gestraf, en Maria kry ’n sagte verduideliking.
Die rede vir dié verskil lê in die soort vrae wat hulle vra. Sagaria se vraag is skepties-afwysend en eintlik ongelowig, terwyl Maria se vraag bloot vir meer inligting was.
Ja, ek en jy mag maar met ons vrae voor God staan, maar dan nie skepties-afwysend of sinies soos Sagaria nie. Ons vrae oor God en die lewe moet met ’n oop gemoed gevra word, met kinderlike geloofsverwagting.
As ons só voor die Here leef, sal ons ook, soos Maria, sy antwoorde op ons vrae met opgewondenheid aanvaar, bly en dankbaar dat ons tot God se beskikking kan wees.
Views: 39