Wie is ’n God soos U? (vers 18)

Te midde van ’n see van ongeloof en spotters, bly Miga rotsvas glo: “Maar ek sal vertrou op die Here,” hou hy vol (vers 7). Wanneer alles om jou verkeerd is en mense spottend vra waar is die God op Wie jy hoop, is dit juis die tyd om jou oë op Hom te rig. Dís wanneer jou geloof groei, want jy ontdek in sulke oomblikke dat God jou nie los nie.

Daarom breek Miga aan die einde van die hoofstuk in ’n loflied uit. Niemand is soos God nie – Hy is genadig, Hy vergewe, Hy bly getrou.

Die bekende Switserse teoloog Karl Barth het Hom die Gans Andere genoem; heeltemal anders. Hy pas in geen boksie in nie. Hy is die Een wat ons bly verras, juis omdat Hy nie soos ons is nie. Omdat Hy nie wrokkig is nie. Omdat Hy al ons sonde in die diepsee gooi.

As God nie só was nie, het nie een van ons dit gemaak nie, en sou ons nie met hoop kon leef nie.

Dalk is dit ’n goeie tyd om nou stil te word in verwondering voor God en saam met Miga te jubel: Wie is ’n God soos U?

NB: Ons begin môre met die boek Openbaring.

image_pdfimage_print

Views: 45

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.