Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid. (vers 16)
Dis moeilik om uit die gegewens in die Evangelies ’n rekonstruksie van Jesus se dagprogram te maak. Dit is egter duidelik dat sy program baie vol was. Lukas laat iets daarvan deurskemer in sy opmerking in vers 15 dat groot menigtes saamgedrom het om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word.
Met só ’n besige skedule was daar nie tyd om stil te word nie, want elke oomblik van die dag is gevul met mense wat op sy aandag aanspraak gemaak het. Jesus laat egter nie toe dat sy werk sy lewe só oorneem dat Hy nie tyd gehad het om met sy Vader te praat nie. Trouens, Hy het tyd gemáák om dit te kon doen.
Dit gaan natuurlik alles oor prioriteite. ’n Mens sal altyd tyd maak vir iets wat vir jou belangrik is, maak nie saak hoe besig jou lewe lyk nie. As jy te besig is om stil te word in God se teenwoordigheid, is die antwoord dalk dat jy weer na jou prioriteite moet gaan kyk. Want as God eerste kom, sal jy, soos Jesus, tyd maak vir stil word met Hom.
Views: 38