“Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” (vers 19)
In Jesus se eie woorde was niemand voor Hom groter as Johannes nie (vers 28). Hy was ’n groot profeet wat soos ’n Elia van ouds die volk weer na God toe moes teruglei. Dit het hy met oorgawe gedoen.
Maar nou sit hy in die tronk, en die Lam van God (Joh 1:29) doen niks aan sy situasie nie. Sy verwagtings was verpletter, en die twyfel begin posvat. Het hy dit dalk verkeerd gehad? Is Jesus regtig die Een wat sou kom?
Dalk het dit met jou ook al gebeur. Jy het gebid en gesmeek, maar oënskynlik het niks verander nie. Dan begin ’n mens wonder oor God.
Jesus verwyt Johannes nie oor sy twyfel nie. Hy verwys Johannes na die profesieë oor Hom, o.a. Jes 35:5-6. Wat Hy doen, is presies wat die profete oor Hom voorspel het. Daarmee sê Hy vir Johannes: “Ja, Ek is die Een. Ek pas presies in in die profete se verwagting. Dis in jou persoonlike verwagtings waar Ek dit nie maak nie.”
Vlug gerus met jou vrae na die Here. Maar maak ook seker dat jou verwagtings van Hom pas op wat die Bybel ons leer.