Ek het gevra: “Wat is dit?” en hy het gesê: “Dit is ’n graanmandjie wat aankom.” Hy het bygevoeg: “Dit bevat die sonde van almal op aarde.” (vers 6)
Die sesde en sewende gesig sluit by mekaar aan. Dit handel oor sonde, wat die potensiaal het om die land te verwoes. In die nuwe era waar die Here deur sy Gees werk (Sag 4:6), is daar nie plek vir sonde nie, en dit moet uit die gemeenskap gesuiwer word.
Die twee gesigte beklemtoon dat God ernstig is oor sonde. Die agtergrond vir die sesde gesig is dit: die mense wat met die ballingskap in Juda agtergebly het, het die grond van hulle wat weggevoer is, ingepalm en het nou met vals verklarings en bedrog probeer om dit te behou en nie aan die regmatige eienaars terugbesorg nie. God self reken met hulle af (vers 4).
In die sewende gesig gaan dit in die eerste plek oor sonde, en nie oor mense nie. Sonde en goddeloosheid, nie die sondaars nie, word na Sinar (Babel, simbool van goddeloosheid) verban (vers 11). Daarom kan ons as verlostes lewe, want deur Jesus het God met die sonde afgereken.
Views: 19