Ek sal ’n einde maak aan die hoogmoed van die vermeteles, Ek sal dié wat hoogmoedig en verwaand is, verneder. (vers 11)
Jesaja 13-23 vorm die tweede hoofdeel van Jesaja 1-39. Die sentrale boodskap van hierdie hoofstukke is dat God die lotgevalle van nasies beheer. In die eerste deel (Jes 1-12) het Jesaja baie gesê oor die oordeel van God oor Juda en Israel. Dit is egter nie net Juda en Israel wat onder God se heerskappy staan nie. Hy heers oor die wêreld, oor magtige ryke en klein koninkrykies, oor sy uitverkore volk en oor die uithoeke van die aarde. Een vir een word die volke in hierdie hoofstukke onder die vergrootglas van God se oordeel geplaas.
Ons kan maklik dink hierdie oordeelsboodskap oor lank vergete volke het niks vir ons vandag te sê nie. Niks is egter verder van die waarheid nie, want Jesaja 13-23 praat met elke mens wat homself verhef en dink hy kan sonder God leef. Dit praat ook met elkeen in ’n gesagsposisie. Dit is relevant vir mense soos regeerders en werkgewers, maar ook vir ouers. Die boodskap raak elkeen van ons. Dit roep ons op om God se heerskappy oor ons lewe te erken.