Vir wie het jy gesmaad en belaster? Vir wie het jy geskreeu en uitgedaag? Die Heilige van Israel! (37:23)
Wat ’n stuk drama speel hom nie in hierdie hoofstukke af nie! Aan die een kant is die arrogante, opgeblase koning Sanherib van Assirië en sy woordvoerders, en aan die ander kant die beskroomde, bang en benoude koning Hiskia en sy mense. Die uitslag van dié konfrontasie lyk alte voorspelbaar.
Dalk het jy ook al so gevoel – magteloos teen ’n oormag van beskuldigings en beledigings. Dan lyk dit vir jou of die duiwel sy sin kry. Dit het al meermale gebeur, soos in die vroeë kerk, toe die Joodse Raad vir Petrus en Johannes gedreig het (Hand 4:21-31).
In sulke gevalle is dit goed om te lees hoe God oor die aangeleentheid voel. God identifiseer Hom só met gelowiges dat Hy die teenstand wat jy as gelowige beleef, Hom persoonlik aantrek. Die Assiriërs het nie net vir Juda gesmaad en beledig nie; hulle het God ook belaster, en daarom tree Hy op in belang van sy mense (37:36-38).
As toegewyde gelowige staan jy nie alleen en uitgelewer in hierdie wêreld nie!