Daarom, so sê die Here my God, sal my dienaars genoeg hê om te eet, maar julle sal honger ly … (vers 13a)
Een of ander tyd gebeur die onvermydelike: daar kom skeiding. Nie almal wat nakomelinge van Abraham is, sal dit maak nie, sê die profeet. Daar kom ’n tyd wanneer “ons” en “julle” nie meer een sal wees nie, wanneer die dienaars deur God versorg sal word, terwyl die afvalliges (vers 11) eenkant toe gestoot sal word.
Dit is pynlik om dit te lees en ook te ervaar – mense wat altyd deel van “ons mense” was, is dit nie meer nie. Oud-teoloë, sien ek al meer, wat nou “post-teïsties” geword het en die geloof en godsdiens agtergelaat het. Gewese lidmate wat nie meer saam aanbid nie.
Kom ek sê dit reguit: die Afrikaner-volk is lank nie meer ’n gelowige volk nie. Te veel het die geloof verlaat en God agtergelaat, God se smekende pleidooie ten spyt (vers 2 en verder). Dis natuurlik nie waar van almal nie. Daar is steeds “dienaars” wat aan God getrou gebly het. Hulle sal ’n nuwe toekoms (vers 15b) van God ontvang.
Dalk het dit tyd geword dat ons, soos God, ophou probeer om almal te paai en in te sluit.
Views: 56