’n Vader vir weeskinders en ’n beskermer van die reg van weduwees is God in sy heilige woning. (vers 6)
In hierdie lied word die almag van God besing. As Hy verskyn, spat sy vyande uitmekaar (vers 2). Daarteenoor is die regverdiges vrolik en bly, en hulle juig voor God (vers 4). God is nie soos die afgode van destyds wat rondgedra moes word nie; inteendeel, Hy dra óns dag na dag, jubel die digter (vers 20). Hy is die God wat ons red en bewaar (vers 21). Hy sorg vir die reëns op sy tyd (vers 10) en beskerming teen die vyand (vers 12-19).
Dié almagtige God werk met ons, sy mense, elkeen indiwidueel. Sy optrede teenoor ons is nie ’n geval van “one size fits all” nie. Vir weeskinders is Hy ’n Vader, vir weduwees ’n beskermer van die reg, vir eensames ’n toevlug, vir krygsgevangenis ’n bevryder (vers 6-7).
God ken jou. Vir Hom is jy ’n unieke indiwidu. Jou eiesoortige behoefte sal by God ’n spesiale benadering kry. Hy weet wat jy nodig het. Hy weet waar jou seer lê, of jou bekommernis, of jou angs. Hy ken jou vreugdes en jou drome. Vir jóú wil Hy sorg en dra.
Views: 10