Sonder ophou bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus. (vers 2b-3)
Die gemeente in Tessalonika het vir die hele destydse Griekeland (Masedonië en Agaje) ’n voorbeeld geword (vers 7) van wat ware navolging van Christus is. Paulus som hulle geloof in die bekende drietal begrippe op: geloof, liefde en hoop (vgl onder andere ook 1 Kor 13:13, 1 Tes 5:8 en Kor 1:4-5). Nêrens elders gebruik hy egter dié drie begrippe met ’n werkwoord-omskrywing nie. Hy doen dit om ons te herinner dat die navolging van Christus nie ’n teoretiese saak is nie; dit is werksaam en moet konkreet gestalte kry in ons doen en late. Dit is geloof in aksie, liefde in aksie en hoop in aksie.
Hoop verg volharding, en hulle het nie sit en wag op die wederkoms nie, ten spyte van hulle uitdagende omstandighede (vers 6). Hierdie volhardende hoop is gevul met die inspanning van liefde, deurdat jy met insig God en die naaste dien. Geloof verg dus werk, en daarteen het die jong gemeente nie opgesien nie.
Geloof, liefde en hoop. Dit is die resep vir ’n vrugbare lewe.